Is jy te suur?

Soos baie ander dinge in die lewe, word ons gesondheid ook deur ʼn paar grondbeginsels onderhou. Ons Skeppergod, het toe Hy ons liggame gemaak het, bepaal dat ons aan sekere beginsels onderwerp sou wees. Ons moet bv. voedsame kos en water inneem, genoeg oefening en rus kry anders neem die funksies van ons liggame doodgewoon af en sterf ons, dalk voordat ons die taak wat Hy ons opgelê het, kon voltooi.

In opvolgende artikels sal ons in diepte kyk na die kwaliteit en hoeveelheid water wat ons liggame nodig het, ook watter soorte moderne kossoorte probleme in ons liggame mag veroorsaak en hoe ons dit met uitstekende alternatiewe kan vervang. Ek kry gereeld vra oor hoe mens regtig seker kan wees dat jy gesond leef , is daar dan nie ʼn manier wat mens kan gebruik om te bepaal hoe gesond jy regtig is nie, of leef jy maar net voort en hoop vir die beste?

Baie van die moderne mediese wetenskap is egter beperk tot die behandeling van ʼn siektestoestand, nie die voorkoming daarvan nie. Daar is bv. meer as die helfte van mense wat in die hospitaal beland met aangepakte are, wie se cholesterol vlakke normaal is. Dit beteken dood eenvoudig dat die groot geveg teen cholesterol nie so effektief is as wat ons wysgemaak word nie, iets anders is ʼn belangriker faktor in die aanpaksels in ons are – meer hieroor op ʼn volgende keer.

Jou dokter en polisieman is goeie ouens om byderhand te hê wanneer ʼn noodsituasie onstaan. Maar net soos die polisieman maar min kan doen voordat ʼn misdaad gepleeg is, kan jou dokter min doen aan jou gesondheid voordat ʼn simptoom kop uitsteek. In baie gevalle is dit dan reeds te laat. By vyftig persent van vroue, met hart probleme, is die eerste simptoom, wanneer hulle dood neerval – sonder enige vroeëre waarskuwing of simptome!

Die moderne manier van siektes behandel is om te wag tot ʼn simptoom voorkom en om dan daardie simptoom te probeer onderdruk deur behandeling. Neem bv. ʼn hoofpyn wat behandel word deur ʼn hoofpynpil te neem. Die hoofpyn is egter selde ʼn toestand in dit self, dis veel eerder ʼn waarskuwings sein van die liggaam dat iets onderliggend fout is. Maar as ons die hoofpyn behandel het, deur dit te onderdruk, voel ons, ons was suksesvol. Die onderliggende probleem is egter steeds daar en soek slegs na ʼn volgende manier om jou te laat weet dat daar ʼn probleem bestaan.
Sien, ʼn simptoom onstaan in ʼn sekere sisteem (bv. die spysverterings stelsel). Sisteme bestaan uit spesifieke organe (bv. die maag of die kolon. Organe bestaan uit weefsel en die weefsel bestaan weer uit selle.
Wanneer ons dus ʼn simptoom soos ʼn hoofpyn behandel, gee ons bloot die liggaam ʼn chemikalie wat die orgaan binne in ʼn spesifieke sisteem vir ʼn tydjie buite aksie stel en jou op die oppervlak beter laat voel. Die onderliggende weefsel en selle is egter steeds ongesond, en wanneer die orgaan dan weer begin lewe voel, kom die simptoom weer na vore. Dit raak dan ʼn bose kringloop totdat ons genoeg van die orgaan gehad het en dit laat uitsny – wat steeds nie die probleem oplos nie, aangesien God dit daar geplaas het vir ʼn baie spesifieke rede, en dit kan nie nou meer vervul word nie.
Ek sien gereeld mense wat sommer ʼn lys chemiese pille neem. Een vir bloeddruk, een vir cholesterol, een vir diabetes en dan voel hulle so depressief dat ʼn antidepressant en slaappil ook nodig is. Hierdie konkoksie laat die kolon dan gaan stil staan, en daarvoor gebruik hulle dan ʼn gewoontevormende lakseer middel. So dink hulle dan het hulle al die simptome goed behandel...

Wel, daar is maniere om te weet of jy gesond is en hoe gesond jy regtig is.
Die eerste plek om te begin is om te verstaan dat as jou liggaam uit gesonde selle bestaan, sal hulle gesonde weefsel bou. Gesonde weefsel sal dan gesonde organe vorm. Gesonde organe vorm dan gesonde sisteme, en wanneer sisteme gesond en optimaal funksioneer, kom simptome nie voor nie.
Die vraag is dan, hoe weet jy dat jou selle gesond of ongesond is?
Gesonde selle word gevoed deur mikro nutriënte, waarvan ons daagliks sommer ʼn hele klomp benodig waaronder; 72 spoor minerale, 26 Vitamiene, 21 Aminosure, 2 Essensiële vetsure, 8 suikers, antioksidante en nog meer. Omdat ons moderne kos ons nie meer van baie van hierdie voedingstowwe kan voorsien nie moet ons dit gewoonlik in een of ander soort aanvulling inneem. Hieroor sal ons op ʼn volgende keer gesels.
Wat egter baie meer fundamenteel is, is dat ons hierdie mikro voedingstowwe moet kan absorbeer, tot in die selle, wat dit nodig het om korrek te funksioneer, en dan begin om gesonde weefsel te bou, wat op hul beurt weer gesonde organe bou en so voorts totdat ons werklik gesond is.

Die sentrale faktor in jou liggaam wat bepaal of voedingstowwe opgeneem word of nie, is iets wat ons jou pH noem. Dit is doodgewoon ʼn aanduiding van hoe suur of alkalies jou liggaam is. Ek moet dadelik noem dat baie mense dit verkeerdelik met maagsuur en sooibrand verbind, nee die suur of alkali waarvan ek hier praat is die soort ding wat kan veroorsaak dat jy seer spiere of seer gewrigte of talle ander siektes ontwikkel.
Vergelyk dit met jou swembad. As die pH balans van jou swembad te suur is, gewoonlik onder 7 dan begin dinge skeef loop. Alge en ander goggas begin groei, die water raak troebel en kan later begin sleg ruik. Wanneer die pH egter bo 7 is, gewoonlik 7.2, is dit alkalies en kan hierdie soort goggas nie groei nie en geniet almal die plesier van skoon helder blou water.

Dit werk baie dieselfde in jou liggaam. Wanneer die pH te suur is kan goggas soos bakterie en ander begin groei en siektestoestande begin ontwikkel. Hierdie suur pH in ons liggame is dan ook die mees belangrike faktor wat bepaal of ons voedingstowwe die selle bereik, al dan nie. Ons kan die pH meet deur ʼn eenvoudige speeksel toets te doen met ʼn stukkie litmus papier. Wanneer die litmus papier met die speeksel in aanraking kom verander dit van kleur na gelang van ons pH. Gewoonlik word die papiertjie meer geel of groen as ons suur is of blou as ons pH alkalies is. Die pH van ons speeksel verteenwoordig die pH van ʼn belangrike oordrag vloeistof tussen ons bloedvaatjies en ons selle, en die pH hiervan behoort ʼn ideaal van 7.5 te handhaaf. Indien die pH onder 7 is kan oordrag van ons mikro voedingstowwe nie effektief plaasvind nie en word ons weefsel selle siek as gevolg van te min kos, en dan begin die proses van ongesonde organe ens. weer van voor af.

In die allerdaagse lewe is daar sommer baie dinge wat kan maak dat ons te suur is. Die grootste hiervan is dit wat ons verkeerd eet en drink. Hierdie is die verfynde of geprosesseerde kosse of kosse of koeldrank wat belaai is met suiker of ander suur vormende bestanddele en wat gewoonlik gestroop is van goeie voedingstowwe.
Soos wat ek in ʼn ander artikel verduidelik het is dit van kardinale belang dat ons water moet inneem wat genoeg minerale bevat en waarvan die pH meer alkalies van aard is. Hierdie is een van die beste maniere om te verseker dat ons pH aan die alkaliese kant van sake bly.

Om die kolon nie skoon en gereeld te ledig nie, is seker een van die grootste faktore wat meeste mense wat ek sien kortwiek. Wanneer ons die kolon nie ten minste twee maal per dag ledig nie, kan van die voedselreste wat te lank in die kolon bly begin afbreek in giftige produkte. Hierdie produkte word dan opgeneem in die stelsel en veroorsaak dat die stelsel se pH meer en meer suur word.
Een van die beste maniere om die kolon aan die gang te kry is om daagliks 2 eetlepels lyn saad in ʼn groot glas water te neem. Dit gee die baie nodige vesel aan die kolon om sy ontgiftings en uitskeidings taak effektief te verrig. Dit spreek van self dat ʼn dieet wat genoeg, gesonde vesel bevat sake net kan verbeter. Soos ek in ʼn ander artikel genoem het is genoeg goeie kwaliteit water van uiterse belang wanneer vesel ingeneem word anders kan die hoë vesel teen produktief wees as dit in die kolon vassteek omdat daar te min vloeistof is om gladde beweging te verseker.

Spreuke 14:30 “’n Rustige hart is die lewe vir die vlees, maar hartstog ’n verrotting vir die gebeente.”
Wanneer ʼn mens te veel stres of spanning beleef, of wanneer ʼn mens in onvergewende bitterheid leef , word jy suur. As jy suur word en nie die nodige alkaliese water en voedsel inneem nie, neem jou liggaam kalsium uit jou bene om te keer dat jy dadelik sterf. As die situasie dan lank voortduur, word massas minerale uit jou bene onttrek, en ontstaan osteoporose of een of meer van ʼn reeks degeneratiewe soort siektes.

Om gesond te wees is en te bly, is dit dus baie belangrik dat jy sorg dat jy gesonde selle het. Gesonde selle het mikro voedingstowwe nodig en kan dit slegs opneem as jou pH alkalies is en die ideaal is om jou speeksel se pH by 7.5 te hou.

My gebed is dat hierdie jou sal help om ’n rustige hart te hê en dat dit lewe vir jou vlees sal wees, sodat jy jou Godgegewe roeping op aarde tot eer van ons Vader kan uitleef.
 
Support : Creating Website | SEO Template | Free Template
Copyright © 2011. Natural Medicine - All Rights Reserved
Proudly powered by Blogger